top of page

 

'Skitter-blerrie-rend!' 'Wenresep.' 'Uit die boonste rakke.' 'Onvergeetlike, heerlike, asemrowende, hoendervleis-aand.' 'Julle roer die hartsnare!' So beskryf gehore hierdie getroude sangpaartjie met hul oorspronklike, vars, eie Afrikaanse musiek.

 

Ja, Corné en Heidi Dannhauser saam, as Huwelied, is 'n onvergeetlike ervaring. Die liefde van 18 jaar se gelukkige getroude lewe is 'n duidelike band wat nog meer trefkrag aan die sinvolle lirieke gee. Nou 'n lag, dan 'n traan, die vloei van emosies en energie sorg vir 'n heerlike ervaring van verskillende style musiek en aanslag. Dan is hulle, na jare se ondervinding, ook uiters gemaklik op 'n verhoog en geniet dit om woordjies met die gehoor te verwissel. Corné se kwinkslae en spitsvondige lirieke laat skerp waarnemers heerlik giggel. Wat hulle verder baie vermaaklik maak, is dat hulle nie alleenlik albei sing nie, maar ook onderskeidelik kitaar (Corné) en viool (Heidi) speel.

 

As jy hou van lekker, gemaklike luistermusiek met goeie lirieke, wat jou roer en ontroer, is hierdie die musiekpaartjie vir jou. As vieslike taal en uitheemse idees jou lankal geel om die kiewe het, is Huwelied se Christelike wêreldsbeskouing 'n vars briesie in die vermaaklikheidsomgewing.

 

Waar kom hulle vandaan?

Op slegs 19 was Heidi die Konsertmeesteres (op viool) vir die Reserwe Nasionale Jeug Simfonie-orkes. In haar laat 20's het sy saksofoon leer speel vir haar rol as 'Mrs Santiago' vir die Staatsteater produksie 'The Buddy Holly Story'. Later is sy in 'Sarie' deur Nataniël genoem as een van Suid-Afrika se top 5 sangeresse. Sy het die vroulike hoofrol vertolk in 'n verhoog-produksie saam met die welbekende akteur, At Botha, en het 'n kleurvolle loopbaan van amper 3 dekades in verskeie aspekte van die vermaaklikheidsindustrie agter die rug. 

 

Corné is ook 'n multi-­instrumentalis (baskitaar, trompet, kitaar, kontrabas) en het ook sy eie, indrukwekkende geskiedenis in die vermaaklikheidsbedryf as kunstenaar, liedjieskrywer en musikale regisseur. Hy was oa. in die Royal Albert Hall met Nataniël, deur Afrika met PJ Powers, in Shanghai met Lili Feng, in die Hartland met Robbie Wessels, in Pretoria met Valiant Swart, het SAMA wenners saam met Coenie de Villiers opgeneem, en was musikale regisseur vir die internasionale ster, Stef Bos. Corné is die kreatiewe stukrag agter Huwelied.

 

(Bespreek hulle met vol 'band', 'backing tracks' of akoesties met stemme, kitaar en viool.)

bottom of page